Liewe Louise

Miskien is die verlies van jou selfoon ‘n bedekte seën. In een opsig is dit wonderlik om vir jou ‘n brief te kan skryf. Dit gee my kans om in woorde te sit wat ek andersins nie behoorlik vir jou

sê en uitdruk nie. Miskien verstaan jou ook nie altyd wat ek werklik bedoel nie. ‘n Brief gee die skrywer ‘n kans om te dink wat hy wil sê, en dit gee die leser kans om dit oor te lees vir beter begrip.

Dan plaas dit ook op rekord wat gesê is om enige tyd in die toekoms weer gelees te kan word.

Dink maar daaraan: Vandag nog kan jy die woorde wat Anna Frank 65 jaar gelede geskryf, lees. Van haar probleme, liefdes en begeertes in afsondering. Van die verwoestende effek wat oorlog op haar lewe gehad het. As sy toe haar gedagtes kon SMS of Mixit, sou dit vir ewig weg wees. Jy sou nooit kon lees van die omstandighede waarin sy haarself bevind het nie. Jy sou nie eers geweet van haar bestaan het! Sy sou vergete gewees het vir die mensdom. Min mense sou weet dat sy ooit bestaan het! Sy sou bloot nóg ‘n statistiek van nóg ‘n volksmoord bly.

Nou weet die wêreld meer omdat sy ‘n besondere mens was én omdat sy haar ervarings neergeskryf het. Die wonder van pen op papier. Watter waardevolle les is daar nie vir ons in nie?

Goed, nou skryf ek maar en hoop jy kan my handskrif ontsyfer. Miskien moedig dit jou aan om self jou hand aan pen en stuk papier te waag.

Met liefde

Oom Piet

 

Joomla templates by a4joomla