Liewe Louise

Vandag wil ek met jou gesels oor ’n onderwerp wat onlangse opgewonde debat in die media veroorsaak het:  tienerseks. Jy het dalk ook die berigte gesien, in die pers en op die TV.

Ek glo nie dit het sonder bespreking by julle verbygegaan nie.

Ek gaan met jou praat soos met die grootmens wat jy is. Ek twyfel of jou ma ooit die moed sal hê, jou pa nog minder.

 

Ek weet nie hoekom die Bybel altyd bygesleep word as ouers nie die guts het om openlik die waarheid met hulle kinders te bespreek nie. Hierdie morality-by-proxy is ‘n gerieflike uitweg vir ouers se ongemak. Hulle weet presies hoe dit binne ‘n tiener voel op vyftien, maar weet nie hoe om dit met jou te bespreek nie. Of hulle wil nie. Of hulle verkies om dit iewers in hul onbewuste weg te steek. So dit is sonde en basta en dit is hoekom almal met helse skuldgevoelens en sielkundige afwykings sit. Omdat ons seks wil verban tot die domain van die spreekwoordelike maatemmer, terwyl almal maar te goed weet van blomme en bye. Of dink hulle weet.

Die waarheid is dat vroeër jare het meisies op geslagsryp ouderdom getrou en kinders gebaar en het iemand gehad om vir hulle te sorg. Haar doel in die lewe was om kinders groot te maak en te klou aan ‘n man om vir hulle te help sorg. Daar is verklaar hulle moet hul man dien, maar hulle het dit gedoen terwille van hul kinders. Sy kon nie eers stem nie en moes haar bek in geselskap hou. Geleidelik het die eise van ons samelewing veranderde en ook baie dinge láát verander. Meisies kan nou stem, hulle kan ‘n keuse uitoefen om kinders te hê, hulle kan hul bekwaam in enige loopbaan (in meeste lande van die wêreld). Hulle kan vandag kies om hul potensiaal te ontwikkel of om ‘n broeimasjien en slaaf van hul omstandighede te wees.

SO, ja Louise, ons weet dat julle meisies al vroeg reeds julle gat vere wil wys en die seuns met ongelooflike dinge in hul broek loop, maar om te vroeg seksueel aktief te word, hou die gevaar in dat dit jou toekomsplanne kan ontspoor. Dit het niks met sonde of die kastige belangrikheid van maagdelikheid te doen nie. Dit is bloot dat jy die kans gegun word om die beste besluite te neem in ’n stadium van jou lewe wat drange voorkeur oor logika het vir baie jongeliede.

Dit is anders vir seuns as vir meisies, maar glo my, as ‘n meisie eers eenmaal seksueel aktief is, is dit baie moeilik om dan nee te sê. Dit is die meisie wat die risiko loop en dit is die meisie wat met die gebakte pere sit in geval van ‘n onbeplande swangerskap. Dit is dus vir haar om halt te roep as die vryery te warm word, dit is háár toekoms op die spel. Dit is net só moeilike op so ‘n jeugdige ouderdom. wanneer jy die vryheid het om met die lewe te eksperimenteer, dit op ‘n veilige manier te doen. Hoe ouer jy word, hoe makliker is dit om lewensbesluite te neem.

So, tieners, pas julleself op, maar moet om hemelsnaam nie skuldgevoelens opgaar in jou binneste. As jy seksueel aktief word, sorg vir die nodige beskerming: teen swangerskap en teen siektes. Weet verseker dat as jy veelvuldige seksmaats gaan hê dit nie net ‘n gesondheidsrisiko is nie maar ook jou reputasie gaan beïnvloed. Jong mans hou van spog oor hul “oorwinnings”.

Dit is baie jammer dat dit so is, maar aan die meisie word altyd die negatiewe toegedig en aan seuns die positiewe. Jy hoef net aan ‘n paar vloekwoorde te dink om dit te staaf. Dit is histories van oorsprong, maar seksisme gaan nog baie lank met ons samelewing wees. As jy nie wil toegee aan portuurdruk nie, sorg dat jy nie in situasies beland wat jou blootstel nie. Gaan in groepe uit, vry selfs in groepe, laat jou ouers weet waar jy is. Die moderne samelewing is ‘n mynveld – maar net jyself kan daardie paadjie loop.

Sorg dat jou verhouding met jou ouers reg is -  dit kan dit baie help. As jy met ’n oop gesig hul raad kan vra, vertel wat jy doen, wonder wat om te doen. Hulle mag nie perfek wees nie, jy het dit al agtergekom, maar respekteer hulle raad as in jou belang.

Daar is dus werklike besluite vir tieners om te neem wat hul eintlik nog moeilik kan doen. Maar glo my, al wat ouers eintlike wil doen, al is hulle hóé onhandig en stupid daarmee, is om hul kinders teen die werklikhede van die lewe te beskerm. Nou vertel hulle julle die dinge van duiwels en sonde om julle bang te maak. Moet nie sulke bog glo nie. Moet nie dat dit jou skuldig voel nie,

Hulle is net bang julle val in die lewe se slaggate. Boonop is hulle bleddie jaloers op julle jeugdigheid.

Met groot liefde

Oom Piet

 

Joomla templates by a4joomla