Só oortuig van ons saak.

Ons is geleer dat mens nie met vriende oor politiek of godsdiens argumenteer nie. Deesdae het daardie taboe verbreed tot onderwerpe van IO, seksuele oriëntasie, doodstraf, besnydenis en Da Vinci Code tot mikrogolwe, GM, straling en kruisbestuiwing. Almal het ‘n standpunt wat hul opgewonde kan stel, maar selde ‘n rasionele argument daaroor voer.

In sy rubriek in Scientific American, roer Michael Shermer die saak aan onder die opskrif “The Political Brain”. Gedurende verkiesingstryd kom eensydige gedrag sterk na vore. Ongeag van die kwessie, die voorstanders van politieke partye sal almal ewe oortuig wees dat alle bewyse hulle standpunt bevestig. Daar word hierna as "bevestiging eensydigheid" (confirmation bias) verwys, waardeur ons bevestigende bewyse soek en vind om bestaande siening te ondersteun en enige getuienis wat die teendeel voorstaan, totaal ignoreer of herinterpreteer.

Ons wil dus glo wat ons reeds glo.

Nou is daar in ‘n study onder leiding van Drew Westen met funksionele magnetiese resonansie skandering (fMRI) bepaal waar in die brein die bevestiging eensydigheid ontstaan en is bevind dat dit onbewustelik en deur emosies aangevuur word. Glad nie wat ons sou wou hê nie.

Volgens Shermer is die studie gedurende die aanloop tot die 2004 Amerikaanse presidents verkiesing op 30 mans gedoen. Die helfte het hulself as vurige Republikeine and die ander helfte as vurige Demokrate beskryf. Hulle moes uitsprake beoordeel waarin die kandidate George W Bush en John Kerry hulself ooglopend weerspreek het. Dit was dus nie vreemd om waar te neem hoe krities die Republikeine was op Kerry en die Demokrate op Bush, terwyl hulle hul eie kandidate skotvry daarvan laat afkom.

Maar die fMRI beelde van die neurologiese aktiwiteite in die brein het vir ‘n verassing gesorg want die dorsolaterale prefrontale korteks - deel van die brein wat met beredenering geassosieer word - was onaktief en rustig! Die aktiewe dele in die brein was die orbitale frontale korteks, wat met die verwerking van emosies te make het; die anterior singulaat wat by konflik resolusie betrokke is; die posterior singulaat wat hom besig hou met beoordeling van morele verantwoordelikhede was baie aktief en helaas - as die persoon tot die slotsom kom waarmee hy emosioneel gemaklik is – die ventrale striatum, wat verband hou met beloning en plesier, het die neurone hier gevuur.

Mooi nè.

“Ons het geen toename in die aktiwiteit van die dele in die brein wat normaalweg by redenering betrokke is, waargeneem nie.” het Dr Weston van die Emory Universiteit in Atlanta in ‘n persverklaring gesê. “Wat ons gesien het was ‘n netwerk van emosie bane (circuits) wat verlig het, insluitend bane wat ons glo betrokke is by die regulering van emosies en die wat ons weet betrokke is by konflik resolusie.” En verder is die neurale bane betrokke by die selektiewe beloning van gedrag geaktiveer. “Essentially, it appears as if partisans twirl the cognitive kaleidoscope until they get the conclusions they want, and then they get massively reinforced for it, with the elimination of negative emotional states and the activation of positive one,” het Weston gesê.

Die implikasie van hierdie bevindings strek veel wyer as die politiek. Regters wat uitspraak moet lewer, maatskappy uitvoerende hoofde wat die posisie van hulle organisasie moet evalueer, navorsers wat bevindings van eksperimente moet oorweeg word almal blootgestel aan bevestigings eensydigheid. Die “regte” besluit sal die een wees wat die naaste aan my of my groep se filosofie sal wees. Gelukkig word regspraak in Suid-Afrika deur die appel proses ondersteun, anders as in Amerika waar beïnvloedbare jurielede uitspraak in gewigtige sake kan gee. Maar dit verhoed nie dat ondersoekbeamptes se getuienis en ondersoeke deur bevestigings eensydigheid beïnvloed word. In die wetenskap verseker ingeboude selfregerende metodes soos die dubbelblind toets prosedure en portuur evaluering dat resultate die toets van die tyd moet deurstaan. Gevolgtrekkings moet deur onafhanklike laboratoria bevestig kan word.

Shermer argumenteer dat soortgelyke beheer meganismes in die reg, politiek en besigheidswêreld nodig is. Die sakeman kan nog aandring op kontrasterende getuienis van konsultante en ouditeure, maar mens kan kwalik sien hoe politici ooit hulself on die openbaar sal blootstel aan portuur evaluering. Behalwe vir wat dit aan sy ego kan doen, bly die risiko vir sy loopbaan net te groot.

 

Servaas de Kock
2008-02-21

 

Bronne:

Michael Shremer, The Political Brain, Scientific American, July 2006

Westen, D., Kilts, C., Blagov, P., Harenski, K., & Hamann, S.  (in press).  The neural basis of motivated reasoning:  An fMRI study of emotional constraints on political judgment during the U.S. Presidential election of 2004.  Journal of Cognitive Neuroscience.

 

Joomla templates by a4joomla