Ware storie uit my jeug.

Verskillende mense het verskillende gewaarwordinge van gebeurtenisse. Jannie onthou hoe hy met die oppomp paraffienlamp omhoog hardop bid en ek toe magies uit die branders verrys. Goddelike ingryping. Hy sweer sy broertjie was nie saam en het nooit n boot gehad. Ek onthou net n avontuur van verbasende besluite. 

 

Dit was waarskynlik ‘n Vrydag toe hulle oor die lagoon roei na die hout struktuur wat as bekende baken by die uitgang gedien het. Toe is die seun, sy maat en dié se boetie met hulle roeibote by die bek van die lagoon uit en al met die kus om na Pelican Point se lighuis. Dit het begin laat word en oorkant ‘n boei is tent opgeslaan om te oornag.

Dat dit ‘n mal idee was van ‘n naweek uitstappie, sou baie wyser mense beaam, maar die drie sou dit gedoen het as dit nie vir die gety en die westewind was nie. Op mooiweer dae as die pelikane hoog bo sirkel kon mens voorspel dat die wind weer gaan waai. Tipies die koel westewind wat die woestyn en sandduine om die dorp in stand hou en soms dreig om Walvisbaai te verswelg.

Hy en sy vriend het gaan stap – kyk na al die goed wat op die sand met jare uitgespoel het. Hout vir die vuur maar ook mooi balke geïdentifiseer waarmee ‘n groot vlot gebou kon word. Broertjie was by die tent aan speel. Maar die kom toe aangehol en vertel dat die seun se boot aan wegdryf was in die stywe wind. Die gety het ingekom en die anker het begin sleep.

Hy spring in broertjie se blink nuwe boot en begin roei syne agterna. Sy boot was hoog op die water en in die weste wind vinnig op pad diepsee toe. Broertjie het net sy kop geskud op ‘n uitnodiging om saam te gaan. Ook maar goed, want dan sou dinge baie anders eindig.

Gou kom hy agter dat hy dit nie dit sou maak nie. Kon nie so vinnig roei nie en sy boot het verder en verder gewaai. Die see het ook meer opgestaan soos hy van die strand die see ingegaan het. Die wind was mos Wes en see-toe se rigting. Hy was ook te groot vir die kleiner kind se boot. Die het te diep gelê en die branders het hom van agter begin inhaal. Dit het probleme voorspel.

Die roeispane was wel van goeie besemstokke en stukke hardboard gemaak, maar het gevaarlik gebuig in die ringe. Die boot was net nie vir sy grootte gemaak nie. Die twee groter seuns het standaard bakkie roeispane bo en onder afgesaag en dan met saag, beitel en vyl vir hulle ‘n handgreep dunner prakseer. (Dit was ook broertjie se nuwe boot – nog nie behoorlik getoets en eerste keer op die water vir die naweek uit – so onthou hy. [is dit reg?])

Besluit toe om terug te draai, maar met die draaislag breek hy die linker spaan. Hy draai om op sy knieë en probeer kano-styl teen die wind op roei, maar vind gou daaruit dit is ‘n hopelose taak want die branders loop reg oor die boeg en begin die boot binne volmaak. Dit is roei en dan water uitskep en dan weer roei. Hy weet dit kan nie so aanhou nie, want met elke brander word die boot voller.

Hy kan ook nog nie juis swem nie. Alhoewel hulle daai dae baie tyd op die water deurgebring het, het hulle nooit “geswem” vir die sport nie. Die water was te koud en daar was nie rede. Doggie-style of water trap in ‘n warm plaasdam wel, maar dit was anders. Dit was die see en die branders was groot.

 

Hy voel net hoe die bootjie onder sy meegee en hy, met die swart trui met die rooi en wit blok patroon, skielik alleen in die water is. Nie heeltemal alleen nie. Twee of drie meeue hang bo sy kop op soek na kos om te aas. Hulle kras as hulle afduik op iets wat in die water dryf.

Dit word vinnig donker. Hy sak af en soek die bodem. Niks. Weet ons het tent opgeslaan oorkant ‘n boei in die water en hy is daar verby. Seker om te waarsku teen vlak water. Kan die boei uitmaak, maar uit sy lae gesigsveld, nie die tent of strand nie.

Kies dus rigting van die boei, skuins teen die wind op. Na ‘n paar hale besef hy dit gaan nooit so werk nie. Is net nie geoefen nie en die swart trui is te swaar met water as hy sy arm probeer lig. Draai om op sy rug en swem rus-rus met voete en arms in die rigting van die boei. Dit is sy baken. Van tyd tot tyd sak hy af maar soek vergeefs die bodem. Die meeue lawaai nog van tyd tot tyd. Sy trui rek langer aan sy arms en oor sy hande. Alhoewel al sterk donker, sien hy die boei baie goed. (besef nie dit is die gaslig van die strand se kant wat dit help verlig nie.

Gaandeweg word die stroom minder en hy voel stroke warm of koue water. Die gety staan seker nou stil. Hy moet gou maak voor dit draai, want dan sal dit moeiliker wees.

Regoor die boei, draai hy teen die wind. Daar behoort dit vlakker te wees. Daar behoort die strand te wees. Daar behoort die tent te wees. Daar behoort sy maat en broertjie te wees. Weet nie hoe laat dit is nie, maar dit is donker.

Die boei is nou voor hom. Die wind wat rigting aangee, agter. Nou besef hy dat die boei verlig is van voor. As hy omdraai is daar ‘n gloed, maar dit duur ‘n wyle om te verstaan dit is “ons” lig. Dit is die maat op die strand met die gaslig.

Dan voel hy die modder op die bodem as hy afsak. Maar dit neem nog baie tyd voor hy regop kan staan in die water. Nog later strompel hy uit op die strand. Sy maat hou die gaslamp omhoog.

*****

Dit was seker ‘n Saterdag. Dit was ‘n gesukkel om met een boot met tent en dinge van drie oor die lagoon by die huis te kom. Die Pelican Point-missie was oor en vergete. Hulle het ooreengekom om nie die storie tuis te vertel nie. Dalk word ons die lagoon belet. Net ‘n mooi liegstorie dat hulle twee bote deur die wind see in geneem is. Toe kom hulle maar terug huis toe.

Maandag sê sy Pa die vistreilers van Ovenstone het ‘n boot op die oop see gekry en dit ingebring na hul jetty. Sy boot het wragtig weer die huis gekry, maar die kleiner roeiboot van die broertjie was weg vir ewig. Natuurlik.

*****

 

Die missie, Pelican Point

   

Ek en Gina, die Boot

  

Vriend Jannie en Broer

Hout struktuur by die uitgang van die Lagoon.

 

 

 

Joomla templates by a4joomla